

Since 1961
Walvis Bay Private School
GRAAD 11 KAMP
Graad 11’s smee bande by leierskapskamp
WBPS se graad 11-leerlinge het vanaf 1 tot 3 Februarie ʼn leierskapontwikkelingskamp by die gewilde Goanikontes Oase Ruskamp bygewoon.
Woensdagmiddag ná tweede pouse het ons graad 11’s met “Aramtamtam” van hul ouers afskeid geneem en op hul avontuur vertrek. Hulle is vergesel deur mnr. Henry Kemp, mnr. Philip van Niekerk, mnr. Morney Brendell, mnr. Herman Grobler, mev. Annelie Burger, mev. Marlene Venter, me. Anel Bester en mev. Verity Bachmann.
Hulle moes die laaste gedeelte van hul tog na die kampterrein (volgens tradisie) te voet aflê, maar dit het nie hierdie besondere groep se entoesiasme gedemp nie.
Reeds op die eerste dag het die “Smarties”, “The Lions”, “H2O”, “Die rekkies”, die “Tentacles” en “Span-spek” hul staal gewys en mnr. Henry Kemp (hoofaanbieder) en mnr. Philip van Niekerk (mede-aanbieder) verras met hul spangees, aanpasbaarheid en insig in wat dit verg om ʼn leier te wees.
Met groot geesdrif het ons graad 11’s op hulle tande gebyt (en party ʼn bietjie stof ook!) en elke uitdaging wat die hindernisbaan bied, aangepak en in die proses hul vrese en tekortkominge gekonfronteer én oorwin!
“Meneer Henry” het almal verras deur self ook rats oor die hoogste hindernis te seil. Danica Greeff het duidelik geen hoogtevrees nie en het herhaaldelik spanmaats vergesel. “Vir my was die ‘obstacle course’ die hoogtepunt omdat dit so lekker was om te sien hoe die graad 11’s as spanne kon werk om mekaar te ondersteun, motiveer en help,” het Freddie Rose gesê.
Laatmiddag moes die spanne hul probleemoplossingsvaardighede inspan en blikkies vind wat hul aandete sou wees. Honger oë het erg teleurgesteld elke groep se skamele vier blikkies bekyk. Groot was hul verligting toe mnr. Kemp ʼn rukkie later met braaivleis vir die wenspan te voorskyn kom. Verder het die “ballonles” duidelik ʼn indruk op die leerlinge gemaak, want die wenspan het dadelik (tot almal se verligting) besluit dat hulle hul prys met almal sal deel.
Donderdagoggend was almal vroeg uit die vere en is getrakteer op ʼn lekker ontbyt by Goanikontes se gesellige restaurant.
Ons graad 11’s se geesdrif en insig het die onderwysers se verwagtinge ver oortref. Saam het ons leerlinge besluit dat hul groepwaardes vir 2023 /2024 “commitment” (getrouheid), “responsibility” (verantwoordelikheid), “respect” (respek), “passion” (passie) en “accountability” (verantwoordbaarheid) sal wees.
Dit was ʼn snikhete dag, maar die leerlinge het deurgedruk en nogtans met erns selfondersoek gedoen en koppe bymekaargesit oor die rol wat hulle as jeugleiers moet vervul.
“Wat vir my uitgestaan het, is dat jy as ʼn leier jouself en jou waardes moet ken. Jy moet ook ʼn persoonlike verbintenis maak om te alle tye eerlik met jouself en jou span te wees, ” het Leigh-marie Visser gesê. Sy het ook genoem dat hulle geleer het dat jy respek teenoor ander mense moet betoon omdat respek help om ʼn positiewe omgewing te bou.
Daar was darem ook tyd vir heerlike roomys, salige maaltye onder die bome en lekker afkoel in die swembad. Volgens André Davids was die kos wat tydens die kamp bedien is uit die boonste rakke.
Wat is enige graad 11-kamp sonder ʼn “nagmars”? Hierdie jaar het ook nie teleurgestel nie.
Teen Vrydagoggend het ons graad 11’s pootuit, maar, as ʼn nuwe span saamgebind deur gedeelde waardes, vir oulaas hul spankrete gedoen en toe terug skool toe vertrek.
Baie dankie aan mnr. Morné Rust en mnr. Zane Botha wat die leerlinge per bus na en van die kamp vervoer het.
























